Neo-Fascisme

Die fasces (in Latyn), is 'n fascistiese simbool. Dit beeld 'n bondel berkelatte wat om 'n byl vasgebind is uit en het in die Romeinse Ryk gesag gesimboliseer. Hierdie simbool is dan ook later deur Mussolini se fascistiese beweging as embleem aangeneem.[1]

Neo-fascisme is 'n ideologie wat na die Tweede Wêreldoorlog ontstaan het en belangrike elemente van die oorspronklike fascisme ingesluit het. Neo-fascisme fokus gewoonlik op ultra-nasionalisme, rasse-meerwaardigheid, populisme, outoritarisme, nativisme en opposisie teen immigrasie in, asook opposisie teen die liberale demokrasie, parlementarisme, marxisme, kommunisme en sosialisme. Bewerings dat 'n groep neo-fascisties is, mag hewige debat ontlok, veral as die term as 'n politieke skelnaam gebruik word. Sommige post-Tweede Wêreldoorlog-regimes is as neo-fascistiese beskryf as gevolg van hul outoritêre aard, en soms as gevolg van hul bekoring van en simpatie met die fascistiese ideologie en rituele.

Post-fascisme is 'n etiket wat toegepas word op verskeie Europese politieke partye wat 'n gewysigde vorm van fascisme aanneem en wat deelneem aan grondwetlike politiek.[2][3]

Neo-fascisme en neo-Nazisme is nou verwante ideologieë want net soos neo-fascisme die oorspronklike Italiaanse facisme as nostalgiese basis gebruik, doen die neo-Nazisme dieselfde met die Nazi-Duitsland en sy nasionale sosialistiese beleidsrigtings as vertrekpunt. Sodanige bewegings kan rofweg onder die algemene oorkoepelende ideologie fascisme ingedeel word.[4]

Ander bewegings verwant aan neo-fascisme, poog om hul verskillende histories losverwante ideologieë te rehabiliteer. Hierdie bewegings sluit neo-fasciste en post-fasciste in Italië in; Vichyȉete, Dodeïste en "nasionale Europeërs" in Frankryk; Ustaše-simpatiseerders in Kroasië; neo-Chetniks in Serwië; Ystergarde herlewingswerkers in Roemenië; Hongariste en Horthyiste in Hongarye; Banderaiste in die Oekraïne (wat 'n ingewikkelde verhouding gehad het met die Spilmoondhede) en ander.

  1. R. Griffin. 1991. The nature of fascism, St Martin’s Press bl. 64.
  2. "Post-fascist - definition of post-fascist by The Free Dictionary". TheFreeDictionary.com. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 3 Mei 2014. Besoek op 15 Augustus 2013.
  3. Griffin, R. (2007) The 'post‐Fascism' of the Alleanza Nazionale: A case study in ideological morphology, Journal of Political Ideologies, 1/2: 123-145
  4. Visser, Myda Marista, 1999. Die Ideologiese Grondslae en Ontwikkeling van die Blanke Fascistiese Bewegings in Suid-Afrika, 1945-1995. Magister Artium Tesis in Kultuurgeskiedenis, Fakulteit Lettere en Wysbegeerte, Universiteit van Pretoria, Pretoria.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search